Welkom by die Gereformeerde Kerk Bet-El!

Hieronder gaan jy inligting kry oor wat ons glo en wat ons doen. Ons vertrou dat jy ons gemeente as verwelkomend en warm sal ervaar, en dat jy goeie en getroue Bybelse onderrig hier sal kry.

Basiese beklemtonings:

Dissipels van Jesus het ʼn diepe besef van hulle eie sonde en noodsaaklikheid om gered te word van die regverdige oordeel van God (Rom. 3:23; 1:16-17). ʼn Persoon word alleen op grond van Christus se volmaakte lewe, kruisdood, opstanding en intreding, deur geloof alleen, geregverdig by God (Ef. 1: 6, 2: 8-9; Rom. 5:1, 6, 9-10). Die hele Woord wys na Jesus toe (Luk.24:27, 44). Dissipels van Jesus bestudeer met ywer die Woord van God (Hand 17:11). God se Woord is die enigste bron wat nodig is vir ons om te weet hoe om gered te word van die ewige straf van God; en hoe om vir Hom te lewe (2 Tim. 3:16-17). Ons Herder se stem en bevele is mooi en perfek, en daarom wil ons Hom slegs volg en aanbid soos wat Hy leer (Ex. 20: 4-6; Matt. 11:30; 15: 9; Joh. 10:11, 14; Kol. 2:20-24). Die toepassing en doen van die Woord is ʼn noodwendige gevolg van ʼn bekeerde persoon (al is dit gebroke): ‘n ware, opregte, praktiese Christenskap (Jak. 1:22). Ons begeerte is om dissipels van Jesus te sien groei in die vrug van die Gees: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (Gal. 5:22). Die grootste gedeelte van ʼn dankbare lewe tot God is om te bid: dissipels van Jesus bid en word daardeur gekenmerk (Ps. 50:14; Heb. 13:15). ‘n Gefokusde visie vir die uitbreiding van die Koninkryk is uiters belangrik (Matt. 6:31,28:20). Dissipels van Jesus het ‘n lewendige liefde en sorg vir Christus se liggaam, die gemeente (Ef. 4: 2, 12; Fil. 2:4-7; 1 Pet. 3:8). Die bemagtiging van ouers om hul huishoudings tot God te lei, is ʼn prioriteit (Ef. 6: 4).

Die Woord van God:

Ons poog om die Woord van God by uitstek in ons denke en ons onderrig voorop te hou. As ons ons denke en ons lewens wil verander, kan dit net gebeur deur die Woord van God (2 Tim. 3:14-17). Ons wil probeer om ʼn geslag te bou wat volwasse is in geloofskennis en God se Woord deeglik en deurlopend in hulle hele lewe, op elke gebied, toepas. Ons is ‘n belydende kerk. Dit beteken dat ons dit stel en bely wat ons glo. As ons nie duidelik weet wat ons glo nie dan sal ons deur elke wind van dwaalleer rondgeslinger word. Ons onderskryf die Drie Formuliere van Eenheid omdat ons glo dat dit met die Skrif ooreenstem. Die Drie Formuliere is die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en Dordtse Leerreëls.

Familie:

Ons glo dat God primêr aan Christen ouers die verantwoordelikheid gegee het om hulle kinders toe te rus en op te lei in die geloof (Dt. 6: 6-9, 20-22; 4: 9-12, Spr. 1: 8; 6: 20-21; Ef. 6:1,2). Daarom wil ons as gemeente die ouers, en veral vaders, aanmoedig, toerus en bemagtig om hierdie Godgegewe mandaat uit te voer. Die gemeente moet nie Christelike ouers in hierdie taak vervang of verdring nie. Die funksie van die kerk is nie om gesinne te skei nie, maar om hulle te verenig, deur die geestelike hoofskap oor hul huis, eerstens, van die gelowige pa en dan van die gelowige ma te respekteer. Omdat God Christen ouers beveel dat hulle hul kinders in alle aspekte van hul lewens sy Woord leer (Dt. 6: 6-9), moedig ons die families aan om te sorg dat hul kinders ‘n Christelike opvoeding kry. Omdat ons die kinders as deel van die verbondsgemeenskap van God sien, moedig ons mense aan om hulle kinders by hulle tydens die eredienste te hou. Daar is ʼn moederskamer vir borsvoedende babas.

Aanbidding:

Ons wil God in elke faset (in die gemeente, in die samelewing, in die gesin, by die werk ens.) van ons lewens aanbid (Rom. 12:1-2). Ons glo dat God vir ons in sy Woord wys hoe hierdie aanbidding in elke faset van die lewe moet lyk (i.e. Rom. 12:3-15). Ons begeerte is om aan die voete van Jesus te sit, van Hom te leer en soos onverdienstelike diensknegte hom te volg (Luk. 17:10). Ons besef dat ons geneig is tot alle kwaad en boosheid; dat ons swak is in onsself; en dat ons nodig het dat God deur sy Gees kragtig in ons werk om ons wysheid, kennis en nederigheid te gee wanneer ons Hom wil volg. Ons wil volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede (Hand. 2:42). Ons wil in ons lewens die vrug sien van ware bekering (Gal. 5:22), en dit sal onder andere beteken dat ons daaraan gekenmerk word dat ons bid (Ps. 50:14).

Gemeenskap en uitreik:

Deur ons liefde vir mekaar wil ons vir die wêreld wys dat ons dissipels van Jesus is (Joh. 13:35). Ons moedig gasvryheid aan en dat ons lede vir mekaar omgee wanneer hulle deur moeilike en veeleisende situasies gaan. Ons begeerte is dat hierdie gemeente gekenmerk word deur warm gemeenskap en lewendige uitreik na mekaar, na die gemeenskap en verder.